
Bridgton RFC het die afgelope naweek hul indrukwekkende rugby spel voortgesit toe hulle Riversdal Blues oortuigend geklop het en sodoende hul wenreeks verder uitgebou het.
Die span het van die afskop af hul stempel afgedruk en deurgaans die oorhand gehad in al drie wedstryde wat gespeel is. Die dag het begin met ’n sterk vertoning deur die C-span, wat met 22-15 as wenners uit die stryd getree het.
Kort daarna het die B-span die momentum voortgesit met ’n oortuigende 43-15 oorwinning, wat hul dominansie duidelik onderstreep het. Die eerste span het gesorg vir die grootste opwinding van die dag in ’n hoë telling-wedstryd.
In ’n kragmeting vol aksie en drieë het Bridgton uiteindelik met 50-42 geseëvier. Alhoewel Riversdal Blues hard teruggeveg het, het Bridgton se aanvallende spel en deursettingsvermoë die deurslag gegee.
Met hierdie oorwinnings het Bridgton hulself gevestig as een van die dorp se gunsteling rugbyspanne. Hul konsekwente vertonings en vermoë om onder druk te presteer, maak hulle ’n span om dop te hou hierdie seisoen.
Alle oë is nou gerig op die komende Saterdag se groot wedstryd wanneer Bridgton teen Harlequins RFC te staan kom. Hierdie kragmeting beloof om een van die hoogtepunte van die seisoen te wees, met baie op die spel vir albei spanne.
Die groot vraag op almal se lippe is of Harlequins hul verloor-droogte sal kan breek, en of Bridgton hul wenreeks sal voortsit en onoorwonne bly in die kompetisie. Rugbyondersteuners kan beslis uitsien na ’n intense en mededingende wedstryd.
Een ding is seker – Die spanning loop hoog, en Saterdag se uitslag kan ’n bepalende rol speel in die verloop van die seisoen. (GRANWILLE GOLIATH)