Sokkerafrigters van verskeie klubs het onlangs hul D-lisensie-opleiding deur SAFA suksesvol voltooi tydens ’n intensiewe afrigterskliniek wat vanaf 11 tot 18 April by die Infanterieskool op Oudtshoorn plaasgevind het. Die kursus het gefokus op die ontwikkeling van basiese afrigtingsvaardighede, tegniese kennis en die effektiewe oordrag van spelbeginsels aan spelers.
Gedurende die week is afrigters blootgestel aan beide teoretiese en praktiese sessies. Die teoriegedeelte het onderwerpe soos spelstrategie, spanbestuur, en spelerontwikkeling ingesluit. Instrukteurs het beklemtoon hoe belangrik dit is om gestruktureerde oefensessies te beplan en ’n positiewe leeromgewing vir spelers te skep. Die hoogtepunt van die kliniek was Saterdag se praktiese evaluasie.
Hier moes elke afrigter demonstreer hoe hulle die kennis wat hulle gedurende die week opgedoen het, in werklike oefensituasies kan toepas. Afrigters het oefeninge aangebied, spelers afgerig en hul vermoë gewys om tegnieke duidelik oor te dra.
Die geleentheid is as ’n groot sukses beskou en het afrigters toegerus met waardevolle vaardighede om hul onderskeie klubs te versterk. Hierdie tipe opleiding speel ’n sleutelrol in die ontwikkeling van sokker op grondvlak en dra by tot die groei van die sport in die streek. (GRANWILLE GOLIATH)
Sokker afrigters ontvang afrigters D-lisensie van SAFA
Foto: Granwille Goliath