Bridgton klop Grootbrakrivier

Bradwin Wanies, heelagter van Bridgton wat een van die span se drieë gedruk het, word deur die heelagter van Grootbrakrivier beetgekry tydens die wedstryd.      Foto: Ebenezer Titus

Bradwin Wanies, heelagter van Bridgton wat een van die span se drieë gedruk het, word deur die heelagter van Grootbrakrivier beetgekry tydens die wedstryd. Foto: Ebenezer Titus

Deur Garnett Wicomb
DIE Bridgton Rugbyklub se A-span het Saterdag op die Bridgton Sportgronde sy eerste oorwinning in vanjaar se SWD Premierliga behaal deur Grootbrakrivier met 27-13 te verslaan.
Die rustydtelling was 10-10.

Bridgton se voorspelers het ná rustyd verwoed by die losgemale ingeklim wat meegebring het dat hul agterspelers meer van die bal gesien het.

Waar die eerste helfte deur hanteerfoute en swak opsies gekenmerk is, was dit in die tweede helfte opvallend dat Bridgton met meer geesdrif as hul teenstanders gespeel het, sê Keith Meyer, afrigter.
“Met ’n voorsprong van 20-13 het die tuisspan ook met groter vryheid begin speel en weer soos die span van ouds gelyk. Die lynstane was ook beter as verlede Saterdag en in die skrums het die agttal sy man behoorlik gestaan.

“In die vaste los was Jolin Saptou goud werd en sy rotsvaste verdediging was ’n riem onder die hart. In geheel het die voorspelers goed vertoon en agterlangs moet die naam van Bradwin Wannies genoem word vir sy vlymskerp breekslae uit die laaste vesting. Die senterpaar, Ganfried May en Adrian Booysen, kan baie tevrede voel met hul verdediging en balverspreiding.”

Meyer sê Bridgton kon verder gewen het as dit nie vir swak besluitneming was nie.
“Ek is nogtans baie tevrede, want ons spelers werk regtig hard vir dié soort uitslae.”
Bridgton het 5 punte verdien wat sy posisie op die punteleer ’n hupstoot gegee het.

Wanies (heelagter), Adrian Booysen (senter), Algernon Waarts (agtsteman) en Gino van Vuuren (losskakel) het elk ’n drie gedruk. Van Vuuren het met twee doelskoppe en ’n strafdoel geslaag.
Bridgton speel Saterdag in Blanco teen Blanco.
• Bridgton B verloor met 22-32 teen Grootbrak B en Bridgton C met 10-38 teen Grootbrak C