All Blacks mik na uitspeel

Jefnie Kiewiets, heelagter van All Blacks, hardloop met die bal onder die wakende oog van Emile Lamprecht van die Oudts­hoorn Rugbyklub. Foto: Ebenezer Titus

Deur Wyndham Ewerts
DIE A-span van All Blacks het Saterdag in ’n SWD Presidentligawedstryd op die Bridgton Sport­gronde die Oudtshoorn Rugbyklub met 24-10 geklop.

Met dié oorwinning het All Blacks nou opgeskuif na die derde plek op die punteleer van die Presidentsliga.
All Blacks het nog net een wedstryd vir die seisoen oor en kan ’n plek in die uitspeelrondes verseker met ’n bonuspuntoorwinning. As hulle verloor of nie met ’n bonuspunt wen nie, is hulle nie van ’n plek in die uitspeelrondes verseker nie.

Vir All Blacks het die staatmakerslot Everton “Rots” Ma-newil twee drieë gedruk, en Nathan Baartman (linkervleuel) en John Jackson (regtervleuel) elk een drie. Larry Paulse (skrumskakel) was suksesvol met twee doelskoppe.

Damon Gysman, voorsitter van All Blacks, het ná die wedstryd gesê die groot verskil hierdie seisoen is dat die spelers as ’n eenheid goed saamspeel en nie alles op eie houtjie probeer aanpak nie.

“Die ingesteldheid van die manne was baie positief van die begin af omdat ons geweet het dat bonuspunte aan die einde van die liga goud werd is.

“Die jong spelers in die span begin ook hul hand opsteek en maak volwasse besluite op die veld wat tot voordeel van die span is”

All Blacks se laaste wedstryd van die seisoen is eerskomende Saterdag teen Willowmore United op Willomore.