All Blacks klop Spring Roses

Everton “Rots” Manewil wat met sy gereelde kraglopies baie veld gewen het.            Foto: Ebenezer Titus

Everton “Rots” Manewil wat met sy gereelde kraglopies baie veld gewen het. Foto: Ebenezer Titus

Deur Wyndham Ewerts
DANKSY goeie afgeronde spel het All Blacks se eerste span vir Spring Roses Saterdag op die Bridgton Sportgronde (Plate) geklop met 22-15, ’n telling wat laasgenoemde vlei.

Die All Blacks het van meet af hul intensies om hardlooprugby te speel duidelik gemaak toe hul vlugvoetige vleuel Eslynn Okkers reeds in die derde minuut ’n drie onder die pale gaan druk het.
Die drie het gevolg nadat Okkers ’n goed geplaasde skop deur All Blacks se losskakel en kaptein, Jefnie Kiewiets, opgevolg het. Duwayne Januarie, heelagter, het verdoel.

Slegs sewe minute later het die swart truie se binnesenter, Ronaldo Jansen, die bal ná ’n goeie agterlynbeweging in die hande gekry. Hy het daarna Spring Roses se verdediging oopgekloof en gaan druk. Januarie het weer verdoel.

All Blacks se ervare slot Everton “Rots” Manewil was deurgaans ’n derduiwel met die bal in hand en het met sy knaende kraglopies momentum oor die voordeellyn vir sy span verseker. Dit het telkens ’n paar verdedigers van Spring Roses gekos om hom te stuit. Die rustyd telling was 14-0.

Claude Fortuin (losskakel) het kort ná halftyd vir Spring Roses ’n strafskop deur die pale gejaag.
All Blacks se vaskopstut Immeraan Malgas het die volgende punte op die telbord geplaas met ’n drie wat nie verdoel is nie.

Spring Roses het laat in die tweede helfte aanval ná aanval geloods en is beloon met ’n pragdrie deur sy haastige vleuel Suttner Abrahams. Aubrey Carelse (stut) het verdoel om die telling 19-10 te maak.
Riaan Lottering (plaasvervangerflank) het Spring Roses se tweede en laaste drie gedruk. Die doelskop was mis.

Hierna het All Blacks se Januarie ’n strafdoel behaal vir die eindtelling van 22-15.
Jefnie Kiewiets is as die Speler van die Wedstryd aangewys.
• Spring Rose se B-span het die bordjies verhang deur All Blacks B met 22-15 te klop.
• All Blacks speel Saterdag (17 Junie) op die Rec teen Willowmore United.