Binnenshuise hokkie wag vir Oudtshoorn

Oudtshoorn Elephants Indoor Hockeyclub se spelers na afloop van verlede Vrydag se oefe-ning by die De Jager Sportkompleks. Foto: Verskaf

Die Oudtshoorn Elephants se binnenshuise junior hokkietoernooi vind op Saterdag, 23 Augustus by die De Jager Sportkompleks plaas.

Hokkiespelers van o.13 tot o.18 kan aan die toernooi deelneem teen ’n inskrywingsfooi van R100 per speler.

Die inskrywingsgeld word aangewend om onkostes van mediese noodhulp, skeidsregters en personeel te dek.

Fevaplay is ook opgewonde om bekend te maak dat hulle twee spanne met talentvolle kinders van regoor die Eden-streek in die komende binnenshuise hokkietoernooi gaan inskryf, om binnenshuise hokkievaardigheidsontwikkeling te bevorder en ook Tennockey bekend te stel.

Volgens die hoofafrigter van die Oudtshoorn Elephants, Charné Dalton, is spelers van enige skool welkom om die dag saam te kom geniet.

“Die toernooi gaan in spanformaat plaasvind, maar individuele spelers is ook welkom,” het sy aan Die Hoorn gesê.

Inskrywings kan slegs gedoen word deur die skakel, www.princesshockey.co.za/clinics, te volg.

Die bankbesonderhede word aan die einde van die inskrywingsvorm verskaf vir elektroniese betaling. (Deur Lindi Brill)