Beserings kniehalter Toy

Deur Liesel le Roux
’N VOETBESERING en weke lank wat sy vanjaar nie kon oefen nie, het verlede Vrydag sy tol geëis toe Oudtshoorn se Toy Ungerer nie ’n medalje kon wen in die 400 m (vroue 70 plus) by die Wêreld-meestersatletiekkampioenskap in Spanje nie.

Ungerer het twee jaar gelede by die vorige Wêreld-meesterskampioenskap nie net die goue medalje in die 400m gewen nie, maar ook die wêreldrekord in die uitdun en die finaal verbeter.

Vrydag moes sy met ’n vyfde plek en ’n tyd van 1:21:25 tevrede wees. Die wentyd van 01:17:47 in die item was egter ver van Ungerer se wêreld­rekord van 1:13:97 af.

Nico Ungerer het ná die wedloop gesê sy vrou was baie hartseer ná afloop van die wedloop. Sy kon nie haar gewone pas volhou nie en moes uiteindelik oor die wenstreep stap.

Ondanks Ungerer se teleurstelling in die 400 m het sy steeds twee medaljes by vanjaar se wêreldkampioenskap gewen – goud in die 100 m en silwer in die 200 m.

Vanjaar se wêreldkampioenskap was die vyfde waaraan sy deelgeneem het.