Meiringspoort-naweek byna hier!
DIE organiseerders van die jaarlikse Meiringspoort-wedlope oor 21,1 en 12,5 km wat volgende Saterdag (14 Oktober) plaasvind, het atlete gewaarsku om die padwerke tussen Oudtshoorn en De Rust in ag te neem sodat hulle nie laat opdaag vir die wedloop nie.
“Maak asseblief seker dat jy ten minste een uur meer by jou reistyd byvoeg om betyds by die wedloop te wees en genoeg tyd te hê vir parkering soek,” lui ’n persverklaring wat die week uitgestuur is. Volgens die verklaring sal die wedloop sal onder geen omstandighede laat begin as gevolg van atlete wat nie betyds is nie.
Daar is tans tussen twee en drie stop/ry-punte op die pad en met die groot getalle mense wat elke jaar na De Rust stroom vir die wedlope, word verwag dat verkeer die dag nie vinnig sal vloei nie.
Atlete word ook versoek om nie met privaat-vervoer na die wegspringpunte in Meiringspoort te gaan nie, maar op die vragmotors te klim wat beskikbaar is.
• Atlete kan Vrydag van 11:00 tot 21:00 registreer, en moet onthou om ’n afskrif van hulle ID-dokument saam te bring as hulle hul nommers gaan afhaal. Alle atlete moet hul eie registrasie doen. Geen atleet sal toegelaat word om ’n ander persoon se registrasie te doen nie. Alle inligting en reëls oor die registrasieproses verskyn op die webtuiste www.meiringspoort21.co.za.
Die laaste inskrywings kan Saterdag tussen 04:30 en 5:30 afgehaal word.
• Die gewilde feesbasaar vind ook weer saam met die wedlope op De Rust plaas en begin reeds Vrydag 11:00 en duur tot Saterdag.
Die vleistafel met Karoovleis sal vanaf Vrydag 16:00 oop wees en Saterdag vanaf 09:00. Vir die vleistafel is daar kaartfasiliteite, maar ander tafels word op ’n kontantbasis bedryf.
Die steakete word Vrydagaand vanaf 17:00 bedien. Pasta sal beskikbaar wees vir atlete wat nie vleis wil eet die aand voor die wedloop nie.