Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Nelsrivier naby De Rust wat ’n sesjarige kind met ’n klip raakgegooi het, is in die
Oudtshoorn Streekhof ’n opgeskorte vonnis opgelê en onder huisarres geplaas.
Hendrik Robertson (37) is aan aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind. Hy het die kind op Oujaarsaand 2016 raakgegooi het toe hy kwaad geword het vir kinders wat klappers geskiet het.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging in ag geneem dat Robertson skuldig gepleit en die kind se ouers om verskoning gevra het.
Robertson is tot ses jaar tronkstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, en 24 maande korrektiewe toesig ingevolge Artikel 276 (1) (h). Dit behels huisarres vir 24 uur per dag behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Hy moet ook 16 uur per maand gratis gemeenskapsdiens verrig en hom weerhou van die misbruik van alkohol en dwelms.