Arende-afrigter bedank

DIE SWD Rugby-unie het gister aangekondig sy hoofafrigter, Abe Davids, het uit sy pos by die unie bedank.

Davids was die afgelope jaar die hoofafrigter van die SWD se provinsiale span. Hy was tersefdertyd in opdrag van SA Rugby die hulp-afrigter van die SA A-span.
Hennie Baartman, president van SWD Rugby, sê in sy verklaring dat die unie met hartseer afskeid neem van Davids, maar verstaan volkome die redes vir sy bedanking. Hy het bevestig dat die uitvoerende bestuur van die unie eenparig besluit het om die versoek van Davids uit ’n menslik­heidsoogpunt te steun.

Davids het op sy beurt gesê dit was nie ’n maklike besluit nie, maar hy voel dat weens persoonlike redes wat onder meer familieverpligtinge insluit, was daar geen ander opsie vir hom nie.

Baartman het voorts vir Davids alle voorspoed met sy toekomsplanne toegewens.

Die vakature wat Davids laat, gaan voorlopig nie gevul word nie. Sy pos sal waargeneem word deur Rynhard van As as tydelike hoofafrigter.

Martin de Vos sal tydelik die pligte van die spanbestuurder behartig.