All Blacks Rugbyklub knak Knysna se knieë

Bo: Die All Blacks se spanne het baie goed op die rugbyveld presteer nadat hulle albei hul wedstryde teen die spanne van Knysna gewen het. Op die foto is die A-span van die All Blacks besig om die spelers van Knysna ’n les te leer in die skrum. Foto: Verskaf Onder: Die spelers van die All Blacks se B-span het hulle ook goed van hul taak gekwyt, veral in die lynstane. Foto: Verskaf

Die twee spanne van die All Blacks het verlede Saterdag Oudtshoorn se naam hoog gehou op die rugbyveld, nadat albei die All Blacks spanne vir Knysna ore aangesit het in ’n wegwedstryd in Knysna.

Die A-span het hul wedstryd met ’n telling van 14-8 gewen, nadat hulle teen halftyd met 0-3 agtergeloop het.

Die drieë is gedruk deur Everton Manewil en PJ Sauls. Roberto Botha het gesorg vir die 2 doelskoppe wat aangeteken is.

Die B-span het ’n oortuigende oorwinning behaal met hul eindtelling van 26-17. Nigel Buys, Nathan Baartman, Hohen Botha en Emilio Levendal kan elkeen spog met ’n drie. Buys het ook gesorg vir een strafskop, en Hershelle Coetzee het twee doelskoppe deur die pale gestuur.

Die A-span lê tans tweede op die Eersteliga A top 8-punteleer met 34 punte en die B-span is in die eerste posisie van die B-spanne met 47 punte.

Die All Blacks se volgende wedstryd sal op 17 Augustus teen die Silver Stars plaasvind. (Deur Lindi Brill)