’n Groot en getroue ondersteuner van die plaaslike All Blacks Rugbyklub, Richard Seroux (88) is na ’n kort siekbed op Saterdag, 24 Mei 2024, oorlede.
Volgens Damon Gysman, voorsitter van die klub, was Seroux ’n stoere ondersteuner van die klub sedert hy op die jong ouderdom van 13 aangesluit het, 63 jaar gelede.
Die klub wat in 1948 gestig is sou vanjaar hul 75ste bestaansjaar vier, ’n mylpaal waarna Seroux baie uitgesien het.
“Oom Richard was feitlik sy lewe lank lid van die klub en niemand moes iets snaaks van die klub sê nie. Hy het seker gemaak dat hy tydens derbywedstryde ’n geleentheid kry om vir die A-span te bid,” het Gysman gesê.
Nog ’n oud-speler en – bestuurslid van die klub, Japie Coetzee, het Seroux beskryf as ’n baie lojale mens. “Hy was orals teenwoordig waar die klub betrokke was, hetsy op die oefenveld, tydens wedstryde, in vergaderings of by funksies. Hy was nie net teenwoordig nie maar het sy alles gegee. En dit het hy gedoen in alle nederigheid en sonder om op die voorgrond gesien te wil word,” vertel Coetzee.
Volgens Seroux se oudste seun, Phillip Seroux, sal hy sy pa onthou as iemand wat nooit sy kinders teleurgestel het nie. “Pappa was ’n streng man in sy huishouding en het altyd gewys hoe hy sy vrou respekteer. Hy het die Here voluit gedien.”
Seroux laat sy vrou Jeanette, vyf kinders, 14 kleinkinders, 12 agter-kleinkinders, twee broers en drie susters na.
’n Troosdiens is Donderdagaand, 30 Mei gehou terwyl Seroux Saterdag om 12 uur vanuit die Bridgton Assembly of God Kerk begrawe word. Die huisdiens te Buffelweg 1294, Bridgton, begin om 11:00. (Deur Garnett Wicomb)
All Blacks ondersteuner oorlede
Foto verskaf