Al drawwend wil Julies De Rust se jeug weer laat droom

Werner Julies gaan Saterdag probeer regkry wat bitter min, waarskynlik geen, De Ruster nog reggekry het nie, en dit is om ’n goue medalje in ’n Optimum Meiringspoort wedloop te wen.

Daar is goeie rede waarom Julies wil wen. Hy wil aan De Rust se jong mense wys dat drome nog waar kan word. Dwelm- en drankmisbruik is ‘n groot probleem onder die dorp se jeug.

“Ek dink dit gebeur omdat jong mense opgee op die lewe. En dit is jammer. As dit nie vir my passie vir sport was nie, kon my lewe baie anders uitgedraai het. Sport het my geleer vasbyt en om gedissiplineerd te wees”, het Julies aan Die Hoorn gesê. Hy vertel verder dat hy krieket en vlugbal vir Hoërskool De Rust gespeel het en na skool het hy sokker gespeel vir De Rust United sokkerspan.

“Die hardloopgogga het my maar verlede jaar gebyt. Dit was uit nuuskierigheid. Ek het gehoor van die De Rust ‘Trail Run”. Ek hou van uitdagings, daarom het ek besluit om deel te neem. Tot my verbasing het ek vierde in die 9,5 km wedloop geëindig. Die uitslag het my lewe verander. Ek het geweet ek kan beter doen as ek harder oefen. My grootste motivering elke dag is die wil om môre beter te wees as wat ek vandag is.”

Met so ’n gesindheid is dit geen verrassing dat Julies oor die afgelope paar maande ’n hele paar keer op die trappies van verskeie wennerpodiums gestaan het nie.

Een van sy eerste groot deurbrake was toe hy verlede jaar derde in die Optimum Meiringspoort se 12,5 km wedloop geëindig het.

Wat Julies se vertonings in wedlope merkwaardig maak, is dat hy as amateur beroepsatlete die stryd aansê. Dit is nie altyd maklik nie. Amper al die atlete wat in die kleure van die groot beroepsklubs deelneem se inskrywingsgelde en vervoer na wedlope word betaal.

Baie van hulle het ’n skoenborg en kry ook vitamienaanvullings. Daar is ook afrigters wat die atlete bystaan. Ten spyte daarvan dat hy gematrikuleer het, sukkel Julies om werk te kry. Die kere wat hy wel werk, is dit as ‘n skoonmaker.

“Ek kla nie. Die lewe is vol uitdagings en as jy dit nie met 100% oorgawe aandurf nie gaan jy altyd misluk,” het hy verder vertel. Dit gaan partykeer maar moeilik om by wedlope uit te kom.

Maar daar is mense wat goed is vir my. Ek is ongelooflike dank aan Pieter en Elbe Schoeman verskuldig. Hulle gaan uit hul pad om my te help. Hulle het al soveel keer vir my nuwe drafskoene gekoop.”

Hy sê dat hy nie ’n groot voorstander van vitamienaanvullings is nie, dat jy moet gebruik wat die natuur vir jou gee. Dit is waarom hy baie vrugte eet. Dit gee hom energie en hou hom gesond.

Julies glo vas dat hy die Optimum Meiringspoort 12,5 km wedloop kan wen.

“Dit is my droom. As my bene dit toelaat gaan ek soos die wind hardloop. En as ek wen, hoop ek dit inspireer jong mense om weer te begin droom”, het Julies afgesluit.