
SONDAG 15 Oktober 2023 is Nasionale Tuindag, maar wat behels nasionale tuindag? Die dag is bedoel om net ’n dag opsy te sit om jou groen vingers en vrolike handewerk in die tuin te vier saam met vriende en familie.
Of jy nou op jou groen grasperk rondrol, uithelp met ’n groentetuin in jou gemeenskap of net ’n paar potplante aan die lewe hou in jou huis, hierdie dag is bedoel om moeder natuur en die skoonheid daarvan te geniet.
Vat ’n breek van die negatiewe in die lewe, jou harde werk, om die bossies uit te trek en hou ’n tuinpartytjie, of lees net ’n boek in jou tuin of op jou balkon tussen jou plante. En dra sommer ’n groot uitspattige blomkroon omdat jy kan. Hier is net so paar idees hoe die dag gevier kan word:
Dit gaan alles oor ’n fees. Nooi jou bure vir ’n teetuinpartytjie, drink ’n glasie vonkelwyn tussen die varings of nooi sommer net jou vriendinne en drink ’n glasie wyn langs die pad in ’n wingerd.
Maak plek vir jou hartsmense aan ’n tafel, of eet koek tussen die Clivia’s, of braai kaalvoet op jou grasperk.
Hou partytjie saam met jou huisplant, of drink ’n koppie koffie by jou kappertjies. Jy kan selfs ’n piekniekmandjie pak en saam met geliefdes ’n daguit-stappie beplan.
Hier is so baie mooi plekke in en om Oudtshoorn wat die perfekte piekniek- plek is. Wat jy en jou familie ook al besluit om te doen, geniet net die dag in die natuur en ook die feit dat na al die wonderlike reën in die karoo die veld, bome, blomme en selfs boere se harte juig oor die water wat in ons streek geval het.
Die dag word deur verskeie bekende ambassadeurs ondersteun soos Jo-Ann Strauss, Rolanda Marais, Lynelle Kenned en Elana Afrika-Bredenkamp.
Besoek gerus www.gardenday.co.za vir meer inligting, inspirasie idees en deel jou foto’s met die hutsmerk #GardenDaySA op sosiale media.