Adias deur na Presidentsliga!

Bradwill Gericke, Adias se vleuel, duik oor vir sy span se laaste drie terwyl sy spanmaat, Francois Gelderbloem, senter, uit pure uitbun-digheid saam duik met die wete dat hulle die wedstryd gewen het.  Foto: Ebenezer Titus

Realdo Muller, kaptein en slot van Adias Rugbyklub, ontvang die Karoostreekligabeker van Reggie Dyssel, uitvoerende bestuurslid van SWD Rugby.

Hugo van der Berg (regs) van Van der berg Vervoer, wat Adias Rugbyklub se nuwe baadjies borg, oorhan-dig Saterdag op die Plate een van die baadjies aan Realdo Muller, kaptein van die A-span.

Bo: Donnie Makonnie, vleuel van Dysselsdorp Rangers, duik tussen ’n aantal Adias-spelers se grypende hande oor vir een van sy span se twee drieë. Foto: Wyndham Ewerts
Onder: Bradley Arries, losskakel van Adias, gee die bal met die een hand uit nadat hy deur een van Rangers se verdedigers platgetrek is. Foto: Ebenezer Titus

Deur Wyndham Ewerts
UITEINDELIK! het ’n verligte Lionel Prinsloo, afrigter van Adias Rugbyklub, uitgeroep toe sy span vir Dysselsdorp Rangers met 23-12 in die eindstryd van die SWD Karoostreekliga klop.

Met dié oorwinning Saterdag op die Plate het Adias ’n plek in volgende jaar se SWD Presidentsliga bespreek. Dit sal die heel eerste keer wees dat Adias in dié liga meeding.

Adias het verlede jaar ook in die eind-stryd van die Karooliga gespeel, maar het toe teen Oudtshoorn Rugbyklub verloor.

Prinsloo sê Adias se spelers het regdeur die seisoen soos kampioene gespeel en verdien hul oorwinning dubbel en dwars.

Albei spanne het puik balvaardighede vertoon ondanks winderige toestande wat die eerste helfde gekenmerk het.

Realdo Muller, Adias se kaptein, het laat in die eerste helfte die eerste en enigste punte van die helfte aangeteken met ’n onverdoelde drie.

Rangers het vroeg in die tweede helfde teruggeslaan met ’n onverdoelde drie deur hul vleuel Donnie Makonnie om die telling 5-5 elk te maak.

Adias se ervare vleuel Charlton Prins-loo, het egter kort daarna ’n uitmuntende skepskop tussen die pale deurgejaag ondanks die winderige toestande.

Die span van Volmoed het geleidelik meer druk begin toepas wat daartoe gelei het dat Rangers begin strafskoppe afstaan het.

Bradley Arries, losskakel, het een van dié strafskoppe verdoel wat Adias se voorsprong tot 11-5 laat rek het.

Kort daarna het Piet Dondas, Adias se woelige skrumskakel, Rangers se verde-diging onkant betrap om te gaan druk. Arries het verdoel om die telling 18-5 te maak.

Met slegs tien minute se speeltyd oor het Rangers teruggeslaan met ’n drie deur Patrick Japhta, vleuel, wat ’n gaping in Adias se hegte verdediging gevind het. Rangers se heelagter, Deverston Esau, het verdoel.

Met die telling op 18-12 was Rangers terug in die wedstryd aangesien hulle net ’n verdoelde drie nodig gehad het vir ’n oorwinning. Met die einde in sig het hulle alles in die stryd gewerp en op Adias se doellyn geboer.

In hul poging om ’n wendrie te druk, het hulle hul verdediging oorboord gegooi deurdat die hele span baie vlak gespeel het. En toe Adias omgekeerde besit be-werkstellig, was daar niemand om Adias se haastige vleuel, Bradwill Gericke, te keer nie. Met speeltyd reeds verstreke het hy van doellyn tot doellyn gehardloop om onder die pale te gaan druk.

Met Adias se oorstelpte ondersteuners wat op die veld gestroom het, kon Arries die maklike doelskop van reg voor die pale nie waarneem nie, wat die eindtelling op 23-12 te staan gebring het.