30ste Meiringspoort marathon weereens vol gees en glimlagte

Bo: Die atlete staan gereed om weg te spring vir die 12,5 km en 21,1 km wedlope.. Foto’s: Verskaf Onder: Links is Bruce Maboza, die wenner van die 12,5 km wedloop. Lloyd Bosman (regs) het die 21,1 km-wedloop gewen en sy eie rekord verbeter. Foto: Pieter van der Walt Heel onder: Die wegspring van die 12,5 km-wedloop. Foto verskaf.

Die immergewilde Meiringspoort-halfmarathon se 30ste wedloop het op 12 Oktober in De Rust plaasgevind.

Vanjaar het 3 377 atlete aan die marahton deelgeneem, waarvan 3 285 die wedloop suksesvol voltooi het. 1 945 atlete het aan die 21,1 km-wedloop deelgeneem en 1 340 aan die 12,5 km.

Leon Cohen (69) wat in Kaapstad woonagtig is, is die enigste atleet wat nog elkeen van die 30 Meiringspoort 21,1 km-wedlope voltooi het.

Die manswenner in die 21,1 km-wedloop was Lloyd Bosman met ’n tyd van 01:00:46. Hy het ook sy eie rekord verbeter. Bruce Maboza het die 12,5 km wedloop in ’n tyd van 00:39:52 gewen.

Kaitlyn Wolff was die vrouewenner in die 21,1 km-wedloop met haar tyd van 01:22:43. In die 12,5 km was Micke Jansen van Rensburg eerste oor die wenstreep met ’n tyd van 00:53:18.

’n Groot basaar word jaarliks saam met die marathon deur die NG Kerk op De Rust aangebied. Terwyl atlete se bene werk word daar op die kerk se terrein geëet en gekuier. Vir vanjaar se feesdag is vyftig lammers, twee beeste en vyf koedoes geslag en verwerk. Niks minder as 140 kg maalvleis is vir kerrie en rys en jaffels gebruik nie.

Volgende jaar sal die Meiringspoort wedlope op 11 Oktober plaasvind. (LINDI BRILL)

Bo: Die atlete word op volstruistrokke aangery na die beginpunt in die poort. Foto verskaf

Bo: Selfs die mediese personeel word aangesteek deur die jolige atmosfeer. Foto verskaf