2023 Fritz Meissner spankompetisie word op Oudtshoorn afgesluit

Bo: Die mans A-Afdelingwenners is van links Adam Myburgh, Andries Visagie, Jacques de Beer (kapt) en Rudy van Rooyen, saam met Debra Hyde (middel), voorsitter van Eden Tennis. Foto: Garnett Wicomb Onder: Die vroue A-Afdelingwenners van links saam met Debra Hyde is Retha Matthee, Rensia de Lange, Debra Hyde (voorsitter), Christine van Coller (kapt), Annalize Potgieter en Rida Bester. Foto: Garnett Wicomb

DIE spanne van Jacques de Beer en Christine van Coller het Saterdag op Oudtshoorn die A-Afdelings in vanjaar se Fritz Meissner 190’s/240’s spankompetisie van die Eden Tennisvereniging gewen.

Albei spanne het al hul wedstryde gedurende die jaar gewen.

In die B-afdeling was dit die spanne van Willem Pretorius en Elsabe Ferreira wat as wenners uit die stryd getree het.

Die span van Des Sampson het weer die 240-afdeling gewen terwyl die span van Gert Beyleveld die beker gewen het vir die span met die beste sportmangees.

Die eindstryde is Saterdag by die Wesbank Tennisklub beslis terwyl ander uitspeelwedstryde op die bane van Langenhoven Gimnasium gespeel is.

Altesaam 25 spanne, vyftien mans- en tien vrouespanne (100 spelers), het aanvanklik vir vanjaar se kompetisie ingeskryf.

Die voorsitter van Eden Tennis, Debra Hyde, het Saterdag tydens die prysuitdeling haar dank uitgespreek teenoor die tennnisklubs en skole wat gedurende die jaar hul fasiliteite vir die wedstryde beskikbaar gestel het en ook ’n spesiale woord van dank aan die organiseerders, Ernst en Hanle Kok, sowel as die onderskeie kapteins gerig. (Deur Garnett Wicomb)