Deur Garnett Wicomb
DIE eerste ronde wedstryde van vanjaar se 190’s- spankompetisie van die Eden Senior Tennisvereniging, is Saterdag op George gespeel met die 28 spanne wat mekaar behoorlik opgekeil en vir puik tennis gesorg het.
Die verdedigende vrouekampioene, Maryna Viljoen (kapt), Christine van Coller, Elmarie Lategan en Rida Bester, en die mansspan, Jacques de Beer (kapt), Wimpie Helmand, Charl Opperman en Daan Spengler, het goeie oorwinnings behaal.
Die wedstryde is op die bane van die George Tennisklub en Great Tennis by die PW Botha Kollege, gespeel
Debra Hyde, president van die tennisvereniging, het met die verwelkoming spelers wat tydens vanjaar se nasionale kampioenskap in Bloemfontein Eden Tennis se naam met skitterende vertonings hoog gehou het, geluk gewens.
Etlike van hulle is tans eerste gekeur in hul onderskeie ouderdomsgroepe.
Die tweederonde-wedstryde in die gewilde 190’s-spankompetisie word op 12 Mei ook op George gespeel.