Links: Die oudste lidmaat van die kerk, Cornelia “Ousie” Grootboom het ’n kers aangesteek vir afgestorwe lidmate en baanbrekers van die kerk. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
DIE Volkskerk van Afrika Oudtshoorn vier vanjaar sy 90ste bestaansjaar. Die kerk is in Maart 1928 gestig na die stigting van die Volkskerk van Afrika in Kaapstad in 1922 deur wyle Eerw JJH Forbes.
Die eerste kerkgebou op Oudtshoorn was in Hoogstraat waar Swans Kwekery vandag is en die gemeente is as gevolg van die Groepsgebiedewet gedwing om na Bridgton te verhuis.
Hulde is tydens ’n 90ste verjaardag-erediens gebring aan die stigters en oud-leraars met die aansteek van ’n kers en onthulling van ’n gedenkplaat vir die ses predikante wat die gemeente opgelewer het – di Pieter du Plessis, Simon Adams, Samuel du Plessis, Impi Booysen, Danni Arries en Esau Willemse. Die gedenkplaat is deur die moeder van Booysen, Sophy Booysen, geskenk.
Die 90-jarige Cornelia “Ousie” Grootboom het ’n kers vir afgestorwe lidmate, baanbrekers en predikante aangesteek.
Wyle eerw Daniel Janari was die gemeente se eerste predikant vanaf 1931 tot 1958. Wyle eerw LT Rosseauw het die gemeente tussen 1958 en 1970 bedien en wyle ds Pieter Pietersen vanaf 1973 tot 1999. Ds Samuel du Plessis is sedert 2000 die kerk se leraar.
Die feesprediker was dr DJ Katts, voormalige moderator van die Volkskerk van Afrika,
• Volgens Jonathan Wicomb van die feeskomitee sal die 90ste verjaardagvieringe voortgesit word met ’n sangaand vir Julie, ’n spogdinee in Augustus wat sal saamval met Vrouedag en ’n debutantebal in Oktober.