Lede van die ANC Vroueliga en die sustersvereniging van die Bongolethu Methodiste Kerk sing en dans tydens verlede Donderdag se roudiens vir Winnie Madikizela Mandela. Links sit Evelyn Gxowa. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
DIE ontslape struggle-aktivis, Winnie Madikizela Mandela (81), het soos ’n rots vasgestaan teen alle aanslae en nooit die ANC verlaat nie.
So is die voormalige vrou van pres Nelson Mandela verlede Donderdag tydens ’n gedenkdiens in die Bongolethu Methodiste Kerk deur Evelyn Gxowa beskryf en geloof. Die diens is deur die plaaslike ANC Vroueliga gehou en deur ’n vyftigtal vroue asook ’n aantal mans bygewoon.
“Ons as vroue moet die Here vir Winnie se lewe bedank. Sy was ’n gelowige vrou en iemand wat groot respek afgedwing het,” het Gxowa gesê.
Sy het haar boodskap na aanleiding van Filippense 4: 13 gebring wat lui: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee”. Gxowa het ’n beroep op die Vroueliga gedoen om Winnie Mandela se nalatenskap te vier en te bou op dit waarvoor sy gestaan het.