Rabie aangewys as SKDM-burgemeester

Dr Annelie Rabie van Prins Albert is aange-wys as die nuwe burgemeester van die Sentraal-Karoo Distriksmunisipaliteit.  Foto: Marlene Malan

Dr Annelie Rabie van Prins Albert is aange-wys as die nuwe burgemeester van die Sentraal-Karoo Distriksmunisipaliteit. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
DIT wat nie meetbaar is nie, is nie bestuurbaar nie.

So het dr Annelie Rabie van Prins Albert gesê met haar inhuldiging as burgemeester van die Sentraal-Karoo Distriksmunisipaliteit (SKDM).

Rabie, ’n gesoute politikus op veral die gebied van plaaslike bestuur, was voorheen ’n raadslid van die Prins Albert Munisipaliteit en die SKDM. Sy het ’n doktorsgraad in publieke administrasie.

Sy is uiters bewus van die armoede waaronder die omgewing gebuk gaan, het Rabie gesê.

“Die siening dat die SKDM die Aspoestertjie-munisipaliteit van die Wes-Kaap is, moet aangespreek word.”

Volgens haar is die Sentraal-Karoo die armste streek in die Wes-Kaap, met Murraysburg en Leeu-Gamka twee van die heel armste dorpe in Suid-Afrika. “Dié streek dra net sowat 3% by tot die bruto plaaslike produk. Die kwynende ekonomie vergroot ons uitdagings en ons sal ekstra hard moet werk sodat daar méér aan ons toegeken word as die R850 miljoen uit die Wes-Kaapse begroting van R62,7 miljard vir die volgende boekjaar. Ons het nog nie eens die uitwerking van die droogte op ons landbousektor genoegsaam in berekening gebring nie. Dít sal, uiteraard, lei tot ’n toename in werkloosheid en ’n potensiële risiko vir voedsel-sekuriteit en -bekostigbaarheid.”

Volgens Rabie is die streek se grootste uitda­gings die saamstel van ’n geloofwaardige geïntegreerde ontwikkelingsplan vir ’n armoede-onder­- steuningsinisiatief, asook die opbou van ’n stewige inkomstestroom vir dié distriksmunisipaliteit.

Rabie het haar tot bepaalde doelwitte verbind as die SKDM se politieke leier: ’n Skoon oudit vir 2018/2019; die verbetering van die gehalte van grondpaaie “wat vir die vervoer van uitvoervrugte, graan en lewende hawe gebruik word”; belegging in toerismemoontlikhede soos halfwoestyn-gholfbane, wegbreek-ontspanningsplekke gemik op ste­delinge en adrenaliensport in die bergagtige dele van die Groot Karoo; en kleinboerdery-ontwikke­ling.

“My kollegas weet al dat ek sterk glo in die ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga). Ek sal dié organi­sa­sie vra om die SKDM te help om ’n positiewe leer­omgewing vir werknemers te skep. Opleiding en bemagtiging van raadslede sowel as amptenare is belangrik, maar hulle sal geen programme of byeenkomste bywoon tensy dit ’n meetbare waar­detoevoeging vir die SKDM sal wees nie. Dié munisipaliteit moet ’n korrupsievrye omgewing wees, en ná konsultasie met die munisipale be­stuur­der en die speaker, sal ons ’n veldtog van stapel stuur om skoon bestuur hier te vestig.

“Ons sal ons deur die nodige wetgewing laat lei en al ons besluite op wetlike voorskrifte grond. Die tweede voorwaarde vir sukses is dat die SKDM ’n begroting op die tafel moet plaas wat ten gunste is van die bekamping van armoede. Vanjaar is ons begroting net R82 miljoen. Die inkomste uit eie finansiering is so laag dat dit ons almal sleg moet laat slaap. Ons sal skeppend te werk moet gaan om ons inkomstestroom te verbeter. Die onrusbarende werklikheid wat ons in die gesig staar, is dat ons salarisrekening 61% is van ons bedryfsbegroting, en dat minder as R1 miljoen beskikbaar is vir ka­pitaalbesteding.

Volgens Rabie is spanwerk, interaksie met die gemeenskap, vennootskappe en die groter verspreiding van ekonomiese groei van die uiterste belang. “Ons moet die kleiner dorpe in die Karoo deur dié benadering vernuwe en laat herleef.”