13-Jarige skok 2de gekeurde in Wesbank tenniskampioenskap

Die belowende jong tennisspeler, Fourie Delport (13), het verlede week vir ’n groot verrassing in die 2024 Pam Golding Klubkampioenskap van die Wesbank Tennisklub gesorg toe hy die 2de gekeurde Zander Petzer in die kwarteindronde uitgeskakel het.

Petzer het die eerste stel met 7-5 gewen, maar die jong Delport het met skitterspel teruggeveg en het daarna die tweede en derde stelle onderskeidelik met 6-2 en 6-3 gewen.

In die ander kwarteindstryde wat verlede week gespeel is het Jacques de Beer vir Paul Fourie met 7-5, 7-5 geklop en Philip Nel vir Danie Steyl met 8-2 in ’n pro-set.

Die verdedigende kampioen, Marcel Petzer, gaan in die een halfeindstryd teen Philip Nel te staan kom, terwyl Delport teen die veteraan, Jacques de Beer, te staan gaan kom.

De Beer gaan beslis die bordjies wil verhang na sy nederlaag in 2023. Die eindstryde word op 31 Augustus gespeel. (Deur Garnett Wicomb)