Gavin Block (regs) hoof van die Oudtshoorn Vaardigheidskool wat vanjaar se SA Toutrekkampioenskap gaan bywoon, saam met die afrigters van die Valkies wat vanjaar die skool se vlag hoog gaan hou by die kampioenskap. Hulle is (van links) Ralton September, Hannes Botes en Yolandi Jordan. Foto: Higgo Jacobs
Deur Higgo Jacobs
SOWAT 1600 toutrekkers en meer as 3000 besoekers word op Vrydag en Saterdag, 8 en 9 Maart op Oudtshoorn verwag vir die Timbercity Suid-Afrikaanse Toutrekkamioenskap wat op die terrein van die Vaardigheidskool in Albertstraat plaasvind.
Gavin Block, skoolhoof van die Vaardigheidskool, sê die skool is oorgehaal vir dié groot byeenkoms. “Ons het al in die verlede SWD-byeenkomste hier aangebied en die personeel weet wat van hulle verwag word.
Block het die ondersteuning van André van Greunen van Timbercity as hoofborg beklemtoon.
Die twee bekendste skole in toutrekkringe, die Hoër Landbouskool Oakdale by Riversdal en die HTS Drostdy van Worcester sal ook hul spiere kom bult.
Volgens Block word sowat 300 spanne van regoor die land verwag en die koshuise van skole buite Oudtshoorn is reeds vol bespreek.
Block verwag dat die rugbyvelde van die Vaardigheidskool in ’n goeie toestand sal wees ondanks die droogte. Dit is volgens hom te danke aan die onderseuning van die munisipaliteit en die boorgatwater waaroor die skool beskik.
Die skool se reëlingskomitee bestaan uit Block, Lizé Badenhorst, Johan Scheepers, Alsje Schoeman, Helda Vermeulen en Tienie Potgieter.