
Diana Koorts, klasonderwyser, en die skoolhoof van Prins Albert Primêr, John Steyn, met Jayden Windvoël en Zureeslia Esterhuizen. Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
Twee leerders van Prins Albert Primêr is onder die top-dertig spellers in die Wes-Kaap!
Zureeslia Esterhuizen (8) en Jayden Windvoël (8) het verlede naweek uitstekend gevaar op Stellenbosch in die Sanlam WOW-Spelfees (Woorde Open Wêrelde) se Wes-Kaapse ronde in dié nasionale kompetisie. Daar was 16 rondes, en Jayden het uitgeval in ronde 9 en Zureeslia in ronde 14.
Zureeslia en Jayden is albei in graad 2, en word afgerig deur hul klasonderwyseres, Diana Koorts, wat hulle ook Stellenbosch toe geneem het. Elke deelnemer moet 300 woorde uit die kop leer, maar hoe verder hulle vorder in die kompetisie, hoe meer onbekende woorde moet hulle kan spel. En nie net die spelling moet korrek wees nie, maar ook die uitspraak van elke woord, sê Koorts. “Veral die plofklanke, soos ‘p’ en ‘b’. As hulle dit nie volgens voorskrif klank nie, word hulle onmiddellik gediskwalifiseer.”
Koorts sê sy is trots op die twee Prins Albertertjies . “Altesame 342 skole in die Wes-Kaap het deelgeneem. Uitdunne is gehou, en uiteindelik het die dertig beste spellers op Stellenbosch deelgeneem. Die woord ‘tydsaam’ het Jayden laat uitval, nie omdat hy dit verkeerd gespel het nie, maar dat dit verkeerd geklink het. En Zureeslia het gestruikel by die woord ‘mikrogolfoond’, wat vir haar onbekend was. In ronde 15 het 16 kinders uitgeval weens onbekende woorde. Net vier het ronde 16 gehaal. Ek is met reg trots op my sterkinders!”
Koorts sê dis verstommend watter “groot” woorde die kleintjies moet kan spel, soos “papegaaiduiker, meteoriete, Lesotho, reënerige, kastaiingplante en snippermandjie”. “En dit in graad twee!”
Volgens Zureeslia is daar nie vir haar ’n “moeilikste” woord nie. “Ek leer hulle net. Niks is vir my moeilik nie.”
Haar gunstelingvak is Engels, “veral die toetse”, en Jayden sê hy hou die meeste van wiskunde. Albei weet presies wat hulle een- dag gaan word. By Zureeslia is daar geen twyfel nie dat sy ’n sjef gaan word, en Jayden sê hy wil niks anders word nie as ’n dokter.