Toutrekkers blink uit by Wes-Kaap kampioenskappe

Bo: Laerskool Wesbank se 280 kg span trek hul harte uit. Foto verskaf Onder: Oudtshoorn Vaardigheidskool se 400 kg span in aksie. Foto verskaf

Toutrekspanne van Laerskool Wesbank asook die Oudtshoorn Vaardigheidskool het die naweek uitgeblink by die Wes-Kaap Toutrek-kampioenskappe wat by Westcliff Skool in Bellville, Kaapstad plaasgevind het.

Daar was altesaam 240 spanne, wat aan die kaalvoete- (Laerskool) en stewelsafdeling (Hoërskool), in gewigsverband asook seuns, dogters en gemengde spanne deelgeneem het. 106 spanne het aan die kaalvoete-kategorie deelgeneem, in die verskeie gewigafdelings van 230 kg, 280 kg, 320 kg, 340 kg, 360 kg, 400 kg en 44 kg.

134 Spanne het aan die stewelsafdelings deelgeneem, aan die 420 kg, 440 kg, 480 kg, 520 kg, 560 kg en 600 kg.

Laerskool Wesbank het twee silwer (230 kg en 320 kg) en een brons (400 kg) ingepalm. Oudtshoorn Vaardigheidskool se 400 kg seunspan het ook goed presteer en 4de plek verower. Die span het teen 21 ander spanne deelgeneem.

Albei skole, asook Laerskool Laurus neem op 21 Maart in Mosselbaai deel aan die Suid-Afrikaanse Toutrek-kampioenskappe. (ANGELIQUE ERASMUS)