Toekennings ingeryg deur Gimmies

Tanya Smit (links), Danna Hough (bo), Reuben Homann, Theunis Herman Griebenow, Ryan Goncalves (van links onder), Franke du Plooy en Jaco Labuschagne.

Stephanus Potgieter, hoof van Langenho­ven Gimnasium, is baie trots op die leerders, onderwysers en ouers van die skool nadat die Gimmies by die onlangse Eden en Sentraal Karoo-distrik onderwystoekennings ’n reeks eerste plekke verower het. Die skool self is ook as die top-skool in die distrik vereer.

Die skool en leerders het die toekennings na aanleiding van hul prestasies in die 2022 matriekeindeksamen verwerf. Hulle is ook tydens die Wes-Kaapse onderwystoekennings in Februarie vanjaar vereer vir hul uitnemende akademiese prestasie deur die eerste plek in die Wes-Kaap in die nasionale senior eindeksamen in 2022 te verower vir ’n skool wat ook tegniese vakke aanbied – warvoor hulle dieselfde distrikstoekenning ontvang het. Hulle het met die onlangse distrikstoekennings weggestap as die skool met die beste prestasie in die distrik.

Die leerders se prestasies tydens die Eden en Sentraal Karoo-distrik toekennings is soos volg:
• Tanya Smit het die tweede plek in die distrik verower vir haar uitslae en eerste in die distrik vir inligtingstegnologie,
• Danna Hough was eertse in die distrik vir ontwerpstudies,
• Ryan Goncalves was eerste in die distrik vir elektriese tegnologie,
• Franke du Plooy was eerste in die distrik vir Afrikaans huistaal,
• Reuben Homann was eerste in die distrik vir tegniese wiskunde,
• Theunis Herman Griebenow was eerste in die distrik vir siviele tegnologie en
• Jaco Labuschagne was eerste vir meganiese tegnologie. (Deur Stefan Skapie Goosen)