‘Meals on Wheels’ fietsryers bring hoop na Oudtshoorn

Die span van Meals on Wheels is verwelkom met sang deur gemeentelede van die Sewendedag Adventistekerk in Bridgton, Oudtshoorn. Foto verskaf

DIE welsynsorganisasie, Meals on Wheels, het hierdie week hul “Extreme Ride 4 Hunger” na Oudtshoorn se Sewendedag Adventistekerk gebring en kospakkies daar afgelewer.

Die gemeente van die kerk het die Meals on Wheels-span met sang verwelkom. Die “Extreme Ride 4 Hunger” word in die vorm van ’n fietstoer wat regoor die land reis gehou, en bring broodnodige kospakkies na gemeenskappe wat dit die meeste benodig.

Die fietstoer het op 28 Februarie in Johannesburg begin en sal op 10 Maart in Kaapstad eindig. Weens die onlangse swaar weer in die omgewing moes fietsryers ongelukkig in voertuie na Oudtshoorn kom.

Volgens die Meals on Wheels Gemeenskapsdienste Noord-Kaap area-direkteur, Pastoor Bevan Jenneke, is die fietstoer die grootste fondsinsamelingsgeleentheid wat deur die Meals on Wheels-gemeenskapsdienste in die Noord-Kaap aangepak is. Die toer gaan deur vier provinsies, en is volgens hom ’n samewerking tussen drie Meals on Wheels-areakantore.

“Ek is geïnspireer deur die toewyding van passievolle individue en vrygewige borge wat altyd bereid is om diep in hul sakke te delf om die organisasie te help om hul visie van ’n hongervrye Suid-Afrika te bereik. Ons is ewig dankbaar vir die span vir hul toewyding om ’n verskil in ons gemeenskappe te maak,” het hy gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)