TWEE van die drie verdagtes wat aangehou word vir die moord op die 34-jarige Jacques Liebenberg, sal volgende week vir borg aansoek doen.
Liebenberg se liggaam is op 12 Januarie met veelvuldige steekwonde deur polisiebeamptes van Dysselsdorp langs die Kammanassie-pad gevind. Drie verdagtes, waarvan die een Liebenberg se stiefbroer Herman Redelinghuys (24)is, is die volgende dag in hegtenis geneem.
Abraham Swartbooi en Adriaan Isaacs is egter vrygelaat voordat hulle op 16 Januarie in die hof moes verskyn weens ’n gebrek aan bewyse teen hulle.
Redelinghuys het besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie. Swartbooi en Isaacs is later weer in hegtenis geneem nadat nuwe inligting bekom is.
Die drie het verlede Donderdag vir die eerste keer saam in die hof verskyn en die saak is deur landdros Vaughn Shone vir die borgaansoek van Swartbooi en Isaacs tot 14 Maart uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)