DIE saak teen drie mans van Oudtshoorn wat tereg staan op ’n klagte van moord met ’n gesamentlike doel, is verlede week in die Oudtshoorn streekhof vir verhoor tot 23 Maart uitgestel.
Kelvin Botha (29) van Neppon, Niel Daniels (27) van Rose Valley en Henry Smith (26) van Rosebank word van moord op Niel Fredericks (25) aangekla.
Fredericks is op 21 April 2022 in Bonteboklaan, Bridgton, met ’n skerp voorwerp doodgesteek.
Die ondersoekbeampte, ao Piet Hendricks, het getuig dat Botha volgens ooggetuies die oorledene met sy knie op die grond vasgedruk het. Smith het hom vasgehou en Daniels het hom gesteek.
Hulle het weggehardloop en die moordwapen in Volstruislaan weggegooi waar dit deur die polisie gevind is.
Hendricks het borgtog teengestaan omdat hy vrees vir die veiligheid van die ooggetuies, van wie een glo reeds deur Botha met die dood gedreig is. Botha het 23 vorige veroordelings (vyftien vir geweld) terwyl hy ook glo ’n getuie met die dood gedreig het.
Hy is ook al by ’n vorige geleentheid onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni. (Deur Garnett Wicomb)