DIE verhoor van twee mans van Oudtshoorn wat van poging tot moord aangekla word ná ’n panga-aanval meer as vyf jaar gelede in Bridgton, is Vrydag met die getuienis van die eerste verdedigingsgetuie hervat.
Clayton Wagner (26) en Damian Matthews (27) word daarvan aangekla dat hulle die aand van 13 Mei 2017 vir Bertram Pietersen met ’n panga gekap, geskop en op hom getrap het. Albei pleit onskuldig.
Adrian le Roux, buurman van Wagner, het Vrydag getuig dat hy die betrokke aand televisie gekyk het toe hy mense buite hoor hardloop het.
Toe hy by sy voordeur uitkyk, het hy Matthews en nog ’n persoon oor die “vlak” sien hardloop.
Hy het ook iemand gebukkend sien staan en later vir Wagner en Pietersen om die huis sien hardloop.
Toe Wagner oor ’n muurtjie spring, het hy die onbekende persoon wat hy later as Bronwynne Swartbooi uitgeken het, gesien kap na Wagner.
Hy het egter vir Pietersen, wat agter hom was, getref.
Pietersen het toe oor die muurtjie op die sypaadjie geval en Le Roux het later gesien hoe iemand die panga optel.
Volgens hom was dit Swartbooi wat die panga neergegooi het toe hy besef het hy het die verkeerde persoon gekap.
Wagner het vroeër getuig dat hy die betrokke aand met sy tante gepraat het nadat sy en haar dogter in ’n woordewisseling was.
Sy tante het toe vir Pietersen, wat by hul bure was, laat roep. Hy het toe glo gedreig dat hy Wagner sal doodmaak.
Wagner het later vir Matthews gaan soek en teruggekom om sy klere te kry omdat hy by hom (Matthews) wou gaan oorslaap.
Hy was by die agterdeur met sy klere toe hy vir Pietersen, gewapen met ’n mes, by die hek sien inkom het.
Wagner, Matthews en nog ’n vriend het toe weggehardloop om glo weg te kom van die klaer.
Matthews het ook getuig dat hy en ’n vriend eerste weggehardloop het toe hulle die klaer “met ’n oop mes” by die hekkie sien inkom het. Hulle het oor die muurtjie gespring en weggehardloop.
Volgens hom was daar baie mense in die straat wat toe klippe na hulle gegooi het.
Hy ontken dat hy Pietersen met ’n panga gekap het.
Bronwynne Swartbooi het vroeër getuig dat hy voor ’n winkel in Hectorstraat gesit het toe hy sien hoe Pietersen deur die twee beskuldigdes en nog drie mans aangerand word.
Volgens hom het Wagner vir Pietersen met die kapmes gekap, dit neergegooi en toe weggehardloop.
Mariaan Swartbooi het egter getuig dat dit Matthews was wat Pietersen met die kapmes gekap het.
Volgens haar was daar vroeër die aand ’n woordewisseling tussen Wagner en Pietersen. Sy het ook gesien dat die beskuldigdes en hul vriende ’n kapmes en stok in ’n pakkamer gaan haal het.
Volgens haar het Pietersen geval nadat Matthews hom met die kapmes gekap het. Terwyl hy op die grond gelê het, is hy met die stok geslaan waarna sy aanvallers weggehardloop het. Sy en twee vriende het met klippe na Pietersen se aanvallers gegooi en hulle het teruggegooi.
Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, het dit aan Mariaan Swartbooi gestel dat sy ’n storie opmaak en dat haar weergawe verskil van dié van Bronwynne Swartbooi. Die saak word deur streeklanddros Ntsoki Moni aangehoor en Corné Pretorius is die aanklaer. (Deur Garnett Wicomb)