Steyn weer in onderwystuig!

By John Steyn is (agter, van links), Bianca Luttig (hoof), Jakoba Visagie en Emmie Willemse. Foto: Marlene Malan

TOE hy in Maart verlede jaar ná 21 jaar as hoof van die Primêre Skool Prins Albert afgetree het, het John Steyn homself ’n lang vakansie belowe – ook om alles te doen waarvoor hy nooit tyd gekry het nie.

Maar nege maande nadat hy die laaste keer by dié skool se voordeur uitgestap het, ná 35 jaar in die onderwystuig, het hy as as wiskundeonderwyser vir graad 5 tot 8 by die privaatskool Christen Akademie op die dorp ingeval.

Hy het baie gedoen in die nege maande tuis, vertel Steyn – van opknapwerk tot lees, “tot om my vrou ’n bietjie te bederf”, maar toe daar ’n behoefte by die skool aan iemand met syferervaring ontstaan, kon hy nie nee sê nie. Onderrig én wiskunde is immers in sy bloed.

Hy’s nie een dag spyt oor sy besluit nie, sê Steyn. “Die klasse in ’n privaatskool is klein en ek kan aandag aan elke kind gee. Ek kan elkeen goed leer ken. Ek weet wat sy of haar spesifieke behoeftes is en kan daarop fokus, anders as in die staatskool.”

Kleiner klasse was die afgelope dekades altyd een van sy grootste begeertes vir die onderwys. “Met veertig kinders in ’n klas kan jy maar daarvan vergeet om nét aan jou vak aandag te gee. Jy het gewoonlik dissiplineprobleme in so ’n groot groep en daar is geen manier waarop jy aan elke kind se probleme en vrae aandag kan gee nie. Dis een van die dinge wat my snags wakker gehou het. En ek kon absoluut niks daaraan doen nie. In groot klasse kan jy nie die beste uit ’n kind haal nie, jy kan nie ’n kind werklik help om sy of haar volle potensiaal te bereik nie. Die swakker leerder ver-dwyn heeltemal, en dit lei weer tot gedragspro-bleme. My benadering met persoonlike onderrig is dat elke kind móét en kán slaag … selfs goed slaag!”

Steyn vertel dat hy by die afskeidsgeleentheid wat die streek se onderwyskring vir hom op Beaufort-Wes gereël het ’n beroep op onderwyshoofde gedoen het om dringend aandag te gee aan die stelsel van groot klasse. “Die onderwysdepartement gaan net goeie uitslae kry as veral die grondslagfaseklasse kleiner is – vyf-en-twintig kinders op die meeste.”
Jy moet ’n gawe hê om wiskunde te onderrig, sê Steyn. “Ek sê altyd vir die kinders syfers is op elke vlak van jou lewe nodig, van die eenvoudigste werk tot jou persoonlike begroting. Wiskunde maak wêrelde vir jou oop.”

Steyn erken dat baie leerders ’n sielkundige struikelblok het wat wiskunde betref en dat woordsomme en breuke die meeste probleme veroorsaak.

“Baie leerders is bang vir syfers, maar as ’n onderwyser ’n kind lief maak vir syfers, haal hy die vrees uit wiskunde.”

Ander onderwysers by die Christen Akademie is verheug daaroor dat Steyn by hulle aangesluit het. Die hoof, Bianca Luttig, vertel “meneer Steyn is iemand wat jou moed en krag gee, wat jou gerusstel, wie se kennis en ervaring ’n groot verskil maak.” Jakoba Visagie, Afrikaans-onderwyseres, sê “dis die beste ding wat met ons skool kon gebeur,” terwyl Emmie Willemse, Engels-onderwyseres, meen daar is “’n nuwe dinamika” in die skool. (Deur Marlene Malan)

Be the first to comment on "Steyn weer in onderwystuig!"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*