Pastoor van Dysselsdorp weer in hof

DIE pastoor van Dysselsdorp wat na bewering ’n tweeling verkrag het, het verlede Dinsdag weer vlugtig in die streekhof op Oudtshoorn verskyn.

Freddy Jaftha (48) word daarvan aangekla dat hy by drie geleenthede in 2017 en 2018 seksuele dade met die 18-jarige tweeling gepleeg het.

’n Versoek van sy nuwe regsverteenwoordiger, adv Stephen Lourens, om die twee klaers en hul moeder terug te roep nadat hy na die bande van die verhoor tot dusver geluister het, is laat verlede jaar deur streeklanddros Daniel Boks van die hand gewys.

Familielede en hul ondersteuners was Dinsdag hewig ontsteld oor opmerkings wat Jaftha glo ná die uitstel van die saak teenoor hulle gemaak het.

Hy pleit onskuldig op al die aanklagte teen hom.

Die saak is op versoek van Lourens deur streeklanddros Daniel Boks vir ’n laaste keer tot Maandag 3 Februarie uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)