DIE wrede aanranding wat gelei het tot die dood van Klaas Campher (63) by die reservoirs in Dysselsdorp het die gemeenskap van dié dorp geskok.
Volgens Leon Campher, ’n gemeenskapsleier, het die oorledene se familie aan hom vertel dat hy Donderdag in die veld gaan hout soek het.
Daar is hy na bewering deur ’n man met ’n klip aangerand.
Die voorval is deur ’n groep mans aanskou wat daar verbygeloop het.
“Die mans het ons na die omgewing ontbied, waar ons die verdagte steeds op die toneel gekry het,” sê kapt. Joey Strydom, stasiebevelvoerder van die Dysselsdorp Polisie.
Campher is onderweg na die hospitaal aan sy wonde oorlede.
Die verdagte, Justin Baartman (22), sal op 4 Februarie in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn op aanklag van moord. Hy sal ook moontlik die dag aansoek doen vir borgtog.
Strydom sê die verdagte het na sy inhegtenisname ’n bekentenis afgelê.
Volgens Campher is inwoners van Dysselsdorp tans besig om ’n petisie op te stel om te vra dat die verdagte nie borgtog kry nie, en beplan hulle om op 4 Februarie in die hofbanke te wees om hul teenkanting teen borgtog te wys. (Deur Angelique Erasmus)