LANGENHOVEN GIMNASIUM op Oudtshoorn is deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) vereer vir hul matriekuitslae einde 2019. Die skool is aangewys as die toppresterende akademiese skool in die Wes-Kaap wat ook tegniese vakke aanbied.
Die skoolhoof, Stephanus Potgieter, het die toekenning Donderdag, 16 Januarie, by Leeuwenhof, premier Alan Winde se woning, in ontvangs geneem.
Die tweede en derde plek in die Wes-Kaap is deur die Hoërskool Drostdy in Worcester en die Hoërskool Labori in die Paarl ingeneem.
Oor die prestasie sê Potgieter: “Ons as personeel is besonder trots op hierdie puik prestasie, wat harde werk van die personeel sowel as die leerlinge geverg het, tesame met die ondersteuning van ons ouers.
“Hierdie was ’n verbetering op verlede jaar se tweede posisie.”
• Potgieter is die onder-voorsitter van die Suid-Afrikaanse Onderwyserunie (SAOU) van die Wes-Kaap, ’n posisie waarin hy verlede Oktober verkies is.
Hy dien ook op die nasionale uitvoerende raad van die SAOU en is ’n lid van die profesionele dienstekomitee.