Kuierplek-moordenaar kry 15 jaar

HY het ’n jong man van sy toekoms ontneem en toon geen berou oor wat hy gedoen het nie.

So het streeklanddros Retha Pretorius gesê toe sy Alfonso Malgas (26) verlede week in die Oudtshoorn streekhof vir 15 jaar tronk toe gestuur het vir die koelbloedige moord op Adrian Oliphant (19).

Malgas het Oliphant op Kersaand 2016 in die Face da Bass-nagklub tien keer met ’n mes gesteek. Hy het skuld ontken en gesê dat agt mans, onder wie die oorledene, hom die betrokke aand aangeval en hy “blinde­lings” twee keer na hulle gesteek het.

Die landdros het met vonnisoplegging gesê dat sy geen wesenlike of dwingende omstandighede kon vind om af te sien van die voorgeskrewe vonnis van 15 jaar vir moord nie.

Volgens haar het Malgas die doel gehad om die 19-jarige te vermoor en dat van die steekwonde volgens ’n mediese verslag met oormatige geweld toegepas is.

Die staatsaanklaer, Willem Vister, het die hof vir ’n lang vonnis gevra omdat ’n ligte vonnis daartoe kan lei dat die publiek vertroue in die howe kan verloor en die reg in eie hande neem.

Die oorledene was ’n belowende student aan die Suid-Kaap Kollege.
Volgens Malgas se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, is hy nie ’n gewelddadige persoon nie en was die betrokke voorval ’n geïsoleerde een.

Hy het die hof versoek om af te wyk van die voorgeskrewe vonnis omdat die beskuldigde redelik jonk is en ’n eerste oortreder is wat geweldsmisdade betref.

Volgens die landdros het Malgas ’n jong man wat ongewapen was, van sy lewe ontneem.

“Elke persoon het die reg om te lewe en die familie van die oorledene sukkel steeds om sy dood te aanvaar en ver­werk. Die beskuldigde het nie die hof in sy vertroue geneem nie,” het die landdros gesê.

Malgas is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)