Een van die afdelingswenners van die Spelling Bee, Ashlin Goliath, in aksie agter die mikrofoon. Foto: Higgo Jacobs

Jay-Leesha Manewil

Eugh Schoeman.
Deur Higgo Jacobs
DIE Spelling Bee-kompetisie wat vanjaar die tiende keer deur die streekkantoor van die Wes-Kaap Onderwysdepartement (WKOD) op Oudtshoorn aangebied is, maak volgens die organi- seerders ’n groot verskil aan die spelvaardighede van leerders.
Die Spelling Bee word jaarliks in samewerking en met die ondersteuning van die Oudtshoorn Munisipaliteit aangebied.
Die algehele laerskole-wenner vanjaar was Jay-Leesha Manewil van Sacred Heart RK Primêr wat ook die graad 6-afdeling gewen het, en die algehele hoërskole-wenner Eugh Schoeman, graad 8-leerder van Langenhoven Gimnasium.
Sacred Heart Primêr op Oudtshoorn se leerders het drie van die vier laerskole-afdelings gewen! Ander leerders van die skool wat koning gekraai het, was Ashlin Goliath (graad 5) en Faithlyn Hendriks (graad 7). Die Laerskool Laurus se Luke Marais was die graad 4-wenner.
Die ander hoërskole-wenners was Elriechan Louw van Dysselsdorp Sekondêr (graad 9), Dane Damons van die Hoërskool Uniondale (graad 10) en Nikita du Plessis van Gimnasium (graad 11).
• Wilna Frances, adviseur vir leerondersteuning by die streekkantoor wat die projek koördineer, sê al die skole in Oudtshoorn en in kringe 5 en 6 is genooi om vanjaar deel te neem. 19 primêre en sekondêre skole van so ver as Haarlem en Uniondale in die Langkloof het vanjaar deelgeneem. Elke skool kon een leerder in elke graad vanaf graad 4 inskryf.
“Die doel van die pro- jek is om die geletterdheidheidsvlakke van leerders te verbeter, maar daar is ook baie ander vaardighede soos optrede voor ’n gehoor, luistervaardighede, die korrekte gebruik van ’n mikrofoon, ensovoorts wat aandag geniet,” sê Frances.
Die kompetisie toets leerders se vaardighede om korrek in Afrikaans en Engels te kan spel. Daar is ’n afdeling waarin hulle woorde moet spel waarvoor hulle kon voorberei, maar ook ’n onvoorbereide afdeling. Volgens Francis wat van die eerste dag af by die projek betrokke was, kan die resultate van die Spelling Bee reeds by skole gesien word.
Sacred Heart en Langenhoven Gimnasium is aangewys as die wenners in onderskeidelik die laerskole- en hoërskole-afdeling.