VIER skole in Die Hoorn se lesersgebied het slaagpersentasies van meer as 90% in die onlangse matriekeksamen behaal, van hulle skole in kleiner dorpe in die streek. Nog drie skole se slaagpersentasies is hoër as 80%.
Volgens syfers wat verlede week deur die kantoor van die distriksdirekteur van die Eden en Sentraal Karoo Distriksmunisipaliteit aan Die Hoorn verskaf is, is die skole Hoërskool Oudtshoorn (99,1%), Langenhoven Gimnasium (98,3%), De Rust Sekondêr (98,1%), Hoërskool Ladismith (93%), Ladismith Sekondêr (89,2%), Fezekile Sekondêr (88,6%) en Bridgton Sekondêr (81,6%). Die Hoorn het ongelukkig nie die finale syfers betyds vir plasing verlede week ontvang nie.
Die slaagpersentasies van die ander WKOD-skole is Hoërskool Môrester (79,5%), Hoërskool Calitzdorp (73,2%), Aurial Kollege (68,8%) en Hoërskool Zwartberg – Prins Albert (57,4%).
Die Hoorn het die slaagpersentasie van Langenhoven Gimnasium met die skoolhoof, Stephanus Potgieter, geverifieer omdat die skool aandui dat hul slaagpersentasie 99,1% is.
Volgens Potgieter het slegs een leerder van die skool se 116 matrieks nie die eksamen geslaag nie, terwyl ’n tweede leerder se eksamen onvoltooid was omdat sy die vraestel vir een vak, lewensoriëntering, nie geskryf het nie. Sy sal dit in ’n later stadium moet skryf om matriek te kan voltooi. Die skool het haar daarom nie in berekening gebring by die bepaling van die slaagsyfer nie omdat sy nog die eksamen moet aflê.
Die WKOD se syfers neem egter ook die leerder wie se eksamen onvoltooid was in berekening by die bepaling van die skool se slaagpersentasie en dui dit daarom as 98,3% aan. (Deur Liesel le Roux)