Korrektiewe Dienste reik uit na skole

DIE personeel van Oudtshoorn Korrektiewe Dienste (DKD) het verlede week as deel van hul uitreikprogram na die gemeenskap skoolklere en -skoene aan 82 leerders van 12 skole in en om Outs­hoorn uitgedeel.

Die leerders is deur maatskaplike wer­kers van die department maatskaplike diens­te, Kindersorg en twee maatskaplike werkers van die DKD, Veronica Maloy en Nathalie Pieterse, geïdentifiseer.

Volgens Lynette Pypers, waarnemende sekretaresse by die Oudtshoorn DKD, is dit ’n inisiatief wat die Suid-Kaapse areakommissaris van die DKD, Ndileka Booi, sewe jaar gelede begin het.

Personeellede het soos in die verlede weer hand in die sak gesteek vir ’n bydrae om die klere aan te koop. “Dit is vrywillig maar elke lid dra by,” sê Pypers.

Weziwe Tshazibane, operasionele ondersteuningskoördinerder van die DKD in die Klein Karoo, het in haar toespraak opvoeders gemotiveer om voort te gaan met die goeie werk en die rol wat hulle in leerders se lewens speel.

Sy het ’n beroep op leerders gedoen om hul opvoeders te respekteer en ten alle tye hul samewerking te gee.

Volgens haar is opvoeders leerders se tweede ouers weg van hul ouerhuis.
Sy het oud-pres Nelson Mandela aan­gehaal wat gesê het dat ’n belegging in kennis vir die beste rente sorg en opvoe­ding die magtigste wapen is om die wêreld te verander.

Die 82 leerders wat skooluitrusting ontvang het, is van die Hoërskool Môre­ster (13), Bridgton Sekondêr (10), Feze­kile Sekondêr (15) en die laerskole Bon­golethu (17), Rodewal (7), Rooiheu­wel (2), Kairos (1), Bergsig (3), De Villiers (6), Welgeluk (2), Colridge (2) en die Oudtshoorn Vaardigheidskool (4). (Deur Garnett Wicomb)