Het jy al ’n spekboom in jou tuin?

Bo: Spekbome in volle blom verlede jaar buite Ladismith. Foto: Jan Ellis

Bo: Spekbome in bamboesbakkies wat Rudi Oberholzer verkoop.
Foto: Facebook

HET jy as ’n inwoner van die Klein Karoo ’n spekboom (of meer) in jou tuin?

Spekbome, wat inheems is aan die Klein Karoo en natuurlik in die veld groei, raak al hoe gewilder as tuinplante dwarsoor Suid-Afrika.

Dit is gehard en bestand teen droogte; dit groei verspot maklik en ’n tak van ’n bestaande boom kan letterlik net in die grond gedruk word as jy ’n nuwe spekboom wil plant; ’n ry spekbome wat jy langs mekaar plant, maak ’n digte, sterk en immergroen heining; en ’n enkele spekboom wat gereeld gesnoei word, kan ’n mooi fokuspunt by ’n huis se ingang word.

Die belangrikste eienskap van hierdie bome egter is dat hulle bekend staan as die plant wat die doeltreffendste manier bied om koolstof uit die lug te absorbeer.

Volgens die mense van Boplaas, die wynkelder op Calitzdorp wat verlede jaar ’n projek afgeskop het om eenmiljoen spekbome te plant, kan ’n spekboom tussen vier en tien ton koolstof per hektaar absorbeer. Dit maak dit beslis dié boom om te plant in die huidige era van klimaatsverandering.

Spekbome is boonop maklik te kry. Daar is baie inwoners in die streek wat gratis ’n paar takke vir iemand wat dit wil graag hê, van hulle spekbome in die die tuin sal afsny.

Dit is ook te koop by kwekerye, terwyl ’n inwoner van Oudtshoorn, Rudi Oberholzer (072 483 8177), spekbome landwyd verkoop en versend.

Hy plant van sy spekboompies onder meer in bamboesbakkies wat dit ’n pragtige fokuspunt op tafels vir funksies maak. (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "Het jy al ’n spekboom in jou tuin?"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*