Man vinnig vas na Wiseguys-inbraak

DIE Oudtshoorn Polisie het verlede Vrydagoggend gou gespeel om ’n man wat by Wiseguys in Hoogstraat ingebreek het, net na 06:00 vas te trek.

Die verdagte, Carlo van Aardt (32), het reeds Dinsdag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn op aanklag van huisbraak. Die saak is uitgestel na 23 Januarie.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het ’n alarmbesigheid die polisie in die vroeë oggendure ingelig oor ’n inbraak by die winkel. Die venster aan die voorkant van die winkel is gebreek.

Die polisie het tydens patrollies in die omge­wing ’n beskrywing gekry van ’n man wat moontlik betrokke kon wees, waarna ’n huis in Eerste Straat deursoek en die polisie op agt pare skoene en ses onpaar skoene beslag gelê het.

Die stasiebevelvoerder van Oudtshoorn, brig Levona Januari, het haar tevredenheid met die flink inhegtenisname uitgespreek.