
Die skoolhoof van die Oudtshoorn Vaardigheidskool, Gavin Block (links), en die waarnemende bevelvoerder van die SAPD Opleidingsakademie, kol Ratsela Tala (regs) saam met bestuurslede van die akademie en leerderverteenwoodigers van die Vaardigheidskool.
DIE SAPD Opleidingsakademie op Oudtshoorn het gisteroggend as deel van die kollege se maatskaplike aanspreeklikheid die Oudtshoorn Vaardigheidskool en Huis Triomf besoek en sanitêre doekies en klerasie aan die twee inrigtings oorhandig.
Die waarnemende bevelvoerder van die kollege, kol Ratsela Tala, en sy bestuur het altesaam 187 sanitêre doekies vir die Vaardigheidskool aan die skoolhoof, Gavin Block, oorhandig en klerasie soos skoene en truie, asook ’n aantal komberse aan die kinderhuishoof, Irma Olivier.
“Ons is daarvan bewus dat baie mieisies maandeliks vir ’n paar dae nie skool bywoon nie omdat hulle nie sanitêre doekies kan bekostig nie,” het Tala gesê.
Volgens Tala is die skenkings moontlik gemaak danksy bydraes van die Akademie-personeel en studente. “Ons probeer op die eenvoudige manier om ’n verskil te maak in ander se lewens.”
Die akademie het volgens Tala einde verlede jaar ook sowat 180 blikkies kos aan vier instellings op Oudtshoorn oorhandig en is tans besig met ’n skoeneprojek wat daarop gemik is om skoene in te samel vir leerders wie se ouers dit nie kan bekostig nie.
Tala het ook spesiale sertifikate aan die hoofde van die twee inrigtings, oorhandig “om dankie te sê vir hul lojale ondersteuning van die gemeenskap”.
Mense wat die Akademie se skoeneprojek wil ondersteun, kan ao Mostert by 044 203 2200 kontak.