Man gaps talle munisipale rekenaars deur venster

’N MAN wat die Oudtshoorn Munisipaliteit se kantore in Voortrekkerweg Sondagoggend helder oordag besteel het, is deur die polisie vasgetrek voordat hy kon wegkom met sy buit.

Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, het die oortreder of oortreders deur ’n venster toegang verkry tot die munisipaliteit se Inligtingstegnologie-departement.

Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudts­hoorn Polisie, sê die inbraak het omstreeks 10:15 plaasgevind. Die polisie het inligting oor die inbraak ontvang en toe hulle by die munisipale ge­bou kom, ’n 28-jarige man op die toneel aangetref.

Na verneem word, was van die gesteelde items buite die gebou tussen plante versteek.
Drie skootrekenaars, ’n rekenaarkas en ’n boor is teruggevind.

Die munisipale sekuriteitswag het eers op die toneel gekom nadat die verdagte reeds in hegtenis geneem is.

Alle gesteelde toerusting is egter nie terug­ge-vind nie. Die munisipaliteit het ná die inbraak die volgende lys verskaf van items wat uit die inlig-tingstegnologiekantoor vermis word:
1 Billion ADSL-roeteerder
2 Makita-bore (1 hameraksie, 1 normaal)
2 Dell-skootrekenaars (’n i5 en ’n i3)
2 HP-skootrekenaars
1 i3 Tafelrekenaar (swart kas)
1 500 GB-notaboek-hardeskyf
1 Mecer 320 GB silwer buitenste hardeskyf
1 Toshiba Centrino skootrekenaar (silwer)

Jeremy Adams het reeds Maandag in die landdroshof op Oudts­­hoorn verskyn in verband met die inbraak.

Borgtog is Dinsdag aan hom toege­staan.

Die Hoorn het verlede jaar meermale berig oor rekenaartoerusting wat herhaaldelik uit die munisipale kantore in Westcottpark gesteel is.