
Die droë denneboom wat Woensdagmiddag (18 Januarie) oor Kerkstraat tot teen die historiese hangbrug geval het.
’N REUSE droë denneboom het gistermiddag omstreeks 16:00 teen die geskiedkundige hangbrug in Kerkstraat op Oudtshoorn geval.
Die boom was vermoedelik die slagoffer van ’n sterk wind wat gistermiddag gewaai het.
Kerkstraat moes vir ’n tyd lank vir verkeer gesluit word terwyl munisipale werkers die takke wat teen die hangbrug beland het, afgesaag het.
Die res van die boom kon daarna uit die pad getrek word.
Julia le Roux, speaker van die Oudtshoorn munisipale raad, het toevallig op die toneel afgekom en die betrokke raadslid, Johan Fourie, gebel. Die munisipale werkers is daarna ontbied.
Fourie sê die skade aan die hangbrug is nog nie bepaal nie, maar dit lyk nie ernstig nie.
Die hangbrug is in 1913 en 1914 gebou as ’n veilige voetoorgang oor die Grobbelaarsrivier.