Presteerders met A’s

Jarika Kritzinger, Natasha Fourie en Corné Jonck.

’N ARBEIDSTERAPEUT, ’n eko­loog en ’n tandarts.

Dit is die beroepe waarop drie van Langenhoven Gimnasium op Oudts­hoorn se matriekpresteerders van 2020 hul oog het.

Dié drie was almal onder hul skool se topvyf-presteerders in die 2020-matriekeksamen: Jarika Kritzinger en Natasha Fourie albei in die vierde-plek met 84%; en die doring onder die skool se topvyf, Corné Jonck met 83%.

Jarika (18) het ses A-simbole behaal – vir Afrikaans huistaal, lewensoriëntering, rekenaartoepassingstegnologie, rekeningkunde, lewenswetenskappe en besigheidstudies.

Sy sê sy gaan vanjaar arbeidste­rapie in Stellenbosch studeer.

“Ek glo elke mens moet in staat kan wees om sy lewe voluit te kan leef, en arbeidsterapeute doen juis dit. Hulle probeer om mense te help om onafhanklik van ander te leef, ten spyte van hul foute,” voeg sy by.

Natasha (18) het vyf A-simbole in die eindeksamen verwerf – in Engels home language, Afrikaans eerste addisionele taal, lewensoriëntering, rekenaartoepassingstegnologie en lewenswetenskappe.

Met haar voorliefde vir die natuur gaan sy vanjaar BSc Biodiversiteit en Ekologie by Stellenboch studeer.

“Ek kan nie myself enige iets anders sien studeer nie,” vertel sy.
Corné (19) se vyf A-simbole was vir Afrikaans huistaal, English first addisional language, lewensoriënte­ring, rekeningkunde en lewenswetenskappe.

Corné gaan vanjaar BChD (tandheelkunde) by die Universiteit van Pretoria studeer.

“Ek het ’n passie vir die mediese veld,” sê hy.

Buiten sy akademiese prestasies was Corné sy skool se hoofseun, ondervoorsitter van die Verenigende Raad van Leerders en onderkaptein van die eerste hokkiespan. Hy was ook lid van die eerste tennisspan, subredakteur van die skoolkoerant, ’n finalis vir Mnr en Mej Gim, dirigent van die skool, en het sy vlak 3-noodhulpsertifikaat verwerf. (Deur Stefan Skapie Goosen)