Onderwysers ontvang toekennings vir tegnologie

Bo van links na regs, Wayne Allen van Laurus, James van der Vyver, vakadviseur oorhandig Sanri Bester se toekenning van Laerskool Wesbank, Ferdi Human (links) en Hannelie Human (regs) saam met James van der Vyver. Foto’s verskaf

VERSKEIE onderwysers van Oudtshoorn het toekennings van erkenning vanaf die Wes Kaapse Departement van Onderwys vir Tegnologie ontvang.

Vakadviseurs vir tegnologie het onderwysers geïdentifiseer en die toekenning is slegs aan 38 onderwysers in die streek toegeken.

Laerskool Laurus se tegnologie onderwyser, Wayne Allen het een vir die skool ontvang. Allen gee die vak aan Graad 6 en 7 leerders vir ’n aantal jare. Laurus se skoolhoof, SW Voster het aan Die Hoorn gesê hy is baie trots op Allen. “Sy toewyding in die klaskamer en die manier waarop hy tegnologiese hulpbronne kreatief by sy lesse inkorporeer wys hoe hy die ekstra myl vir sy leerders stap, wat gaande oor hom is.”

Sanri Bester, van Laerskool Wesbank het ook ’n erkenning vir tegnologie ontvang. “Sy lewer fantastiese werk en ons is baie trots op haar,” het Waldo Cloete, skoolhoof van Laerskool Wesbank gesê. Hy vertel dat hulle dankbaar is om haar by die skool te kan hê.

Hannelie Human en Ferdi Human van Hoërskool Oudtshoorn het elk ook ’n toekenning vir hul volgehoue goeie werk in Tegnologie in Eden en Sentrale Karoo Distrik ontvang. Struisies se skoolhoof Gerrit Rudolf het gesê hy het groot waardering vir hul nougesetheid, harde werk en positiewe ingesteldheid teenoor die vak. “Ons as Struisie-familie salueer julle!”

Langenhoven Gimnasium se Ben Janse van Rensburg (vakhoof), Gerhard Loots, en Marius Botha is ook met die toekenning vereer.

Alewyn Vorster, waarnemende skoolhoof van Gimmies vertel dat hulle baie trots is op die onderwysers en deur harde werk het hulle sukses behaal.

“Ons pluk die vrugte van hul toewyding.” (Deur Angelique Erasmus)