Andrew Davids, die Hoërskool Calitzdorp se nuwe skoolhoof vanaf 1 April. Foto: Higgo Jacobs
Deur Higgo Jacobs
“EK wil graag ’n verskil maak in die lewens van mense en veral in die lewens van kinders. Kinders kan leer dat hulle hul eie toekoms kan skep en nie ’n bakhand-lewensingesteldheid hoef te hê nie.”
So sê Andrew Davids wat vanaf 1 April 2019 deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) as skoolhoof van die Hoërskool Calitzdorp aangestel is. Dis ’n skool met ’n geskiedenis wat strek oor meer as 100 jaar.
Davids is ’n boorling van Bonnievale waar hy sy laerskoolonderwys ontvang het. Hy het aan die Langeberg Sekondêre Skool op Robertson gematrikuleer en na skool aan die Söhnge Kollege in
Worcester met wiskunde en menslike bewegingkunde as hoofvakke gestudeer. Hy behaal ’n B Tech-graad in onderwysbestuur en ook B Ed Honneurs (kurrikulumstudies) aan die Universiteit van Stellenbosch (US).
Davids se onderwysloopbaan het in 1996 aan Bonnievale Primêre Skool begin. Hy het daarna ook in die Noord-Kaap ’n draai gemaak en onderrig gegee by verskeie skole, onder meer die Hoërskool Theron en Hoërskool Orion.
Hy is nie onbekend met die gemeenskap en leerders van Calitzdorp nie, aangesien hy vanaf Januarie 2013 tot Maart 2017 departementshoof by die Hoërskool Calitzdorp was. Davids is tans adjunkhoof van die Hoërskool Ladismith en sê dat hy hier waardevolle ondervinding opgedoen het van ’n skool waarvan die kurrikulum van graad 1 tot graad 12 strek.
Wat beskou hy as sy grootste uitdaging by sy nuwe skool?
“Om ’n kultuur van leer by die leerders te vestig en vir hulle ’n toekomsvisie te gee sodat hulle in hulself kan glo en nie ander blameer vir hul omstandighede nie. Ook om hulle te laat verstaan dat hulle oor hope potensiaal beskik om enige droom na te jaag en te verwesenlik”
Hy is deeglik bewus daarvan dat die ouergemeenskap van Calitzdorp sosiale en maatskaplike uitdagings het, maar glo dat die gemeenskap die belangrikheid van opvoeding besef en alles sal wil doen om te verseker dat hulle kinders hard sal moet werk om sukses te behaal.
“Dit is moeilik, maar dit kan gedoen word. Meer kinders moet na skool aan tersiêre inrigtings gaan studeer. Leerders moet in hulleself begin glo en net strewe na die beste. Op so ’n manier word ouerbetrokkenheid en skooltrots bevorder,” verduidelik hy sy visie as nuweling-skoolhoof.
Davids sê hy volg ’n deelnemende bestuurstyl en probeer om die personeel en leerders te verenig met dieselfde gedeelde visie.
Davids en sy gesin woon in Zoar duskant Ladismith, maar hy beplan om gedurende die week in die skoolkoshuis in Calitzdorp te bly en sodoende ook die leerders beter te leer ken. Sy twee dogters, Nasia en Zoë, gaan in Oudtshoorn skool en sy vrou, Gail, ook `n opvoeder, deel haar man en hul pa se visie om ’n verskil in ander se lewens te maak.