Water vir skool

By van die water wat vir die Hoërskool Calitzdorp ingesamel is, is van links Nicolay Baartman, André Ellis (leerkrag), Elmira Pretorius, Nikita Goliath Joyce Antonie, Arthur Fortuin (voorsitter beheerliggaam) en Runica Gentle. Voor sit Andre Wagenaar. Foto: Liesel le Roux

’N FONDSINSAMELINGSPROJEK vir water vir die Hoërskool Calitzdorp het R5 400 opgelewer!

Die fondsinsameling vir water vir die skool en die skoolkoshuis te midde van ’n watertekort is deur een van die onderwysers, André Ellis, geloods. Hy het op Facebook ’n beroep op mense gedoen vir skenkings en ver­skeie mense het sy versoek gedeel.

Volgens Ellis het talle Calitzdorpers betrokke geraak en 25 liter-waterkanne geborg, terwyl ’n groep jongmense in Gauteng R3 600 met ’n gholftoernooi ingesamel het. Die TPI (Tannie Poppie Invitational) is ’n jaarlikse gholftoernooi van ’n klompie oud-studente van die Taaibos-koshuis van die Universiteit van Pretoria. Die toernooi is vernoem na die kosma van die koshuis. Onder aanmoediging van Wilhelm

Venter wie se ouers op Calitzdorp woon, en Johan de Jager het hulle die geld geskenk. ’n Plaaslike restaurant het ook aangebied dat die skool hul boorgat kan gebruik.

21 waterkanne is gekoop en die res van die geld sal gebruik word om die waterkanne vol te hou.

Ellis het almal vir hul steun bedank.