
Deur Liesel le Roux
VIER mans is op Donderdag 7 Februarie deur die Veediefstaleenheid in hegtenis geneem in verband met voorvalle waar die vere van meer as 100 volstruise oornag op plase in die Volmoed- en sementpad-omgewing buite Oudtshoorn van die voëls se lywe gepluk en gesteel is.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word nog inhegtenisnames verwag.
Die voorvalle het teen die einde van verlede jaar plaasgevind, met R68 000 se vere wat by een van die boere wat deurgeloop het, Bartel du Toit, gesteel is. Van die volstruise wat op 24 en 25 Desember gepluk is, was reeds verkoop met hul slagwaarde wat as gevolg van die plukkery gedaal het, terwyl van sy broeivolstruise ook deurgeloop het en opgehou broei het. Du Toit het ’n beloning van R2 000 aangebied vir inligting wat tot die suksesvolle vervolging van die verdagtes sal lei.
Kiewiet Platjies (46), Alex Banthom (51), Isaak Sambo (42) en Marnoe Wagenaar (26) het reeds in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn en is op waarskuwing op borgtog vrygelaat.