Mini-skootrekenaars bring digitale era na Bridgton Senior Sekondêr

Van links is Donell April (hoofseun), Zoey Roodman (hoofmeisie), Amber Witbooi (onderhoofmeisie) en Janion Kennedy (onderhoofseun) met die mini-skootrekenaars. By hulle is Kelvin Ellis (prinsipaal, links agter) en Willmeero Freeks (onderwyser). Foto: Ilze-Mari Gründling

Van links is Donell April (hoofseun), Zoey Roodman (hoofmeisie), Amber Witbooi (onderhoofmeisie) en Janion Kennedy (onderhoofseun) met die mini-skootrekenaars. By hulle is Kelvin Ellis (prinsipaal, links agter) en Willmeero Freeks (onderwyser).  Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het Maandag mini-skootrekenaars aan die Graad 12-leerders van Bridgton Senior Sekondêr geskenk as deel van ’n inisiatief om die skool digitaal te bemagtig.

Die skool is een van agt modelskole wat gekies is om die mini-skootrekenaars eerste te gebruik en maak deel uit van die WKOD se e-onderwys-program (eLearning).

Kelvin Ellis, hoof van Bridgton Senior Se­kondêr, sê dat die opvoeders en leerders baie opgewonde en geesdriftig is.

“Die opvoeders het vooraf opleiding ontvang om die rekenaars te gebruik en ons is reg om die kinders te leer. Ons kan nie wag om daarmee af te skop nie.”

Millicent Merton, woordvoerder van die WKOD, sê die onderwysdepartement glo dat e-onderwys (eLearning) ’n belangrike rol in elke kind se klas speel.

“Die Wes-Kaapse regering het eLearning geïdentifiseer as iets wat die meeste verskil in die lewens van inwoners van alle gemeenskappe kan maak. Die WKOD se doel is om eLearning teen 2019 deel te maak van die skolekurrikulum,” sê hy.

Volgens Merton het die WKOD drie tipes skole geïdentifiseer vir eLearning-integrasie – model, verbeterde en universele skole.

Die WKOD het ’n aanlyn-databasis geskep om digitale inhoud te berg, wat dan opgesoek kan word op grond van die graad, vak en onderwerp.

Volgens Ellis sal die leerders toegang hê tot al hul handboeke en take op die rekenaars. Die matrieks ontvang die mini-skootrekenaars eerste sodat ’n proeflopie gedoen kan word en dan sal die res van die skool dit ook ontvang.