‘Belangrik om leiers op Oudtshoorn toe te rus’

René Arendse lei hier ’n motiveringsessie oor leierskap by die Fedsas-beraad die afgelope Saterdag op Oudtshoorn.

René Arendse lei hier ’n motiveringsessie oor leierskap by die Fedsas-beraad die afgelope Saterdag op Oudtshoorn.

Deur Liesel le Roux
64 leerders en 15 onderwysers van die Groter Oudtshoorn en ander Suid-Kaapse dorpe – Hartenbos, Ladismith, Groot Brakrivier en Calitzdorp – het Saterdag ’n leiersberaad bygewoon wat in Oudtshoorn deur die nasionale verteenwoordigende organisasie van skoolbeheerliggame, Fedsas, aangebied is.

Hierdie projek van Fedsas geskied in samewer­king met ses munisipaliteite in die Wes-Kaap, naamlik Oudtshoorn, George, die Paarl, Mooreesburg, Kaapstad en Caledon.

Volgens Danie van Wyk, bestuurder van Fedsas Wes-Kaap, groei dié berade jaarliks.

“Die projek se doelwit is leierskapontwikkeling vir leiers in skole asook vir leerders wat op skoolbeheerliggame dien.

“Ons gee hulle leiding oor hul rol en funksies op die beheerliggaam en leer hulle hoe hulle kan bydra om hul skole en so ook hul samelewing te verbeter.”

Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Colan Sylvester, sê die dorp se Visie 2013 lê klem op die belangrikheid van opleiding en daarom was dit vir die munisipaliteit belangrik om betrokke te raak.

“Die land het leiers nodig.

“Dit is belangrik om leerders hier op Oudts­hoorn toe te rus.

“Maar ons moet ook onthou vir hulle is dié opleiding die begin van ’n reis en ons help hulle om eendag hul vlerke te kan sprei.”

Ander vennote vir dié opleiding is die Afrikaanse Taalraad, Afrikaans.com, die Wes-Kaapse Onderwysdepartement asook die ATKV.

Danie van Wyk, bestuurder van Fedsas Wes-Kaap (links) saam met Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester (middel), en Fernando Tallie van Fedsas.

Danie van Wyk, bestuurder van Fedsas Wes-Kaap (links) saam met Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester (middel), en Fernando Tallie van Fedsas.